As Johnny weer huistoe kom – Oorspronklike teks deur Renier

by reniermedia

                                                                        As Johnny weer huistoe kom                                                           Teks 6: 3/4/93


 

                                           Renier van Loggerenberg (c) 1993                                                                       As Johnny weer huistoe kom                                                                  3/4/93                                           Renier van Loggerenberg (c) 1993


 

Esther:… Ja nag Johannes… Hallo? Hallo-o..Kom nou Bokkie ek weet jy’s hierso. Daai ou grootbek missus Mankiewitz het my gesê hier was heelmiddag iemand. – ek weet jy kom uit die townships uit, maar moes jy die stroois saambring? Johnny? Johnny sit nou aan daai lig, dis nie meer snaaks nie. Johnny… (Lig aan)  Shit. Shit. Shit-shit-shit. (uit) (terug). Shit. Ag nee man. Aggeneeman. Aggeneemanfokman. Aggenee-dit-help-nie-eers-om-te-vloek-nie-man. Ag nee man. OK. OK. Ek moet bel. OK. Waarmee verdomp! OK relax. Ek wil nie relax nie. OK-OK ek sal. (Lees) U Faschi F321 koordlose telefoon is F.C.C. en S.A.P.O. goedgekeur en geregistreer vir direkte koppeling aan u telefoonlyn – OKOKOK – aah – Gebruiksaanwysings: Ontkoppel u telefoon – ja dis klaar gedoen dankie … vir my …  ons het vir u die jongste rekenaartegnologie ingespan … la-la-la-lelaa… kies ‘n plek vir u koordlose telefoon wat naby ‘n telefoonklink – wat de donder … OK plug… sowel as ‘n wisselstroom kragbron … wat de …OK nog ‘n plug, ‘n ander plug, is. OK watter plug wil julle hê – hier’s ‘n hele donderse woonstel vol – dis al wat hulle nie gevat het nie – Demmit man, kon hulle nie eers vir my die F-foon gelos het nie- Prop in en skakel aan en die LGD sal aanflits – O-K. Prop telefoonkoord in die opening aan die agterkant van die masjien,  agter m-m onder… o..OK die een gaan daar in … en watter een van die vier… OK…  u Fachi… se interne battery is alreeds galaai en is daarom dadelik reg om te gebruik – OK – en -daar’s hy.(Telefoon lui) Shit! Hallo! Hallo ja! Belinda ek skrik my gat af. Nee ek – ons is vandag beroof – besteel – nou net hier aangekom. Nee ek’s nog nie OK nie – wat dink jy. Nee hulle’s klaar weg. Dit lyk soos ‘n Demoina hierso – die plek ruik so… so …vuil. Ja dankie man. Nee ek’s seker OK… maar hulle het nie eers vir my suiker gelos of ‘n ou glasie om dit in te drink nie man… alles. Tot my foon. Nee die goed het net ‘n ou motorfietshelmet van Johnny hier gelos… nee ek weet nie… die ding is sat. Dalk het hy nie een van hulle gepas nie. Nee dis ‘n luister hierna… Faschi F 321 koordlose wonderwerk… ‘n Geskenk vir Johnny, Ja, ek spaar al ‘n rukkie. Maar hemel pêl, jy bly net hier oorkant , kom kyk … ek voel so yuppie… so … besteelde yuppie… Nie hier oorkant nie. By jou ma… Geretrench – ag nee shit man. Ag nee shit shit. Vandag? Sommer net so? O. Maar… nee ek bedoel ons het darem redelike versekering en als, maar… in hierdie tye… ek bedoel… kan ek nie oorkom en … Alleen …. Beter. OK. Haai Belinda ek voel soos ‘n ot. Hier sit ek en bitch jou ore af oor ‘n simpel ou… nee dit is ‘n simpel ou inbrakie -inbrekie- what the hell en jy sit daar met jou hele lewe… hel pêl. Man sorry-man. En jy sit daar so kalm soos ‘n komkommer en aanvaar dit so peaceful. Ek sou die aap aan sy strot gaan ruk het. Jy moet sê as jy dalk wil oorkom – anytime – jy weet mos… onthou nè – anytime. Ek weet nie waar hierdie land heen donder nie -  weet jou man. Nee – aaa dis eintlik hoekom jy bel. Nee nog niks nie. Johnny moet vanaand vinnig huistoe kom om sy Uniform-baadjie te kom haal – hulle’t môre ‘n uitpasseringsparade of iets van ‘n Pro Nutro medalje en hy’t gesê Steve sal sommer saamkom en … wel dit moes seker ‘n verrassing vir jou gewees het, ek weet nie…anyway hier gaan ek aan soos ‘n uil op my fluit – hoor hier wat’s die nommer daar.. wag ek kry ‘n pen. Haai man dis terrible nuus. Jy moet laat weet as ons kan help. OK ek skryf : Mm-mm. Dis amper snaaks – hier sit ek – geen tv, geen bed, niks. Net ‘n helmet en ‘n toilet en shopping – shit en ek het spesiaal Woolies toe gegaan en nou’s my yskas… Hoor hier as jy goed soek om ‘n regtig lekker ete vir jou en Steve te maak, hier’s pasta en uie en roomys en… hemel pêl hulle het selfs my nuwe Kelvinator hier uit. Dat niemand onraad gemerk het nie… Jy weet ek het net net vandag gedink daar gaan iets gebeur – onthou jy – soos op Varsity – as jy ‘n toets sou pluk of so iets – die jeuk in my ore – ja, maar dit was net erger as ooit – so asof iemand iets vir my wou sê: Hel pêl, hier sit ek en daar sit jy 2 brand new statistics in ons land se mal geskiedenis. Laat ek jou nou een ding sê: Dis tyd dat ons girls hierdie land regeer – Ja – en ek wed jou daar sal niks meer oorloë en retrenchment-shit wees nie, en die Pil sal heeljaar op sale wees… Ja. Jy moet my kombuis sien – die ape het op my Novilon gesit en my hele yskas leeggevreet. En my hele kombuis-vloer maak so: Snap, crackle… shit. Die goed het selfs my toilet gebruik man – sonder om die sitplek op te tel. Watse nuus – Nou op – Iets van Johnny hulle? Wat? O shit. Nee gaan kyk gou ek wag – op wat? Natuurlik – net nie dit ook nog nie –  Nee ek kan nie nuus kyk nie – Wat? Wat van Johnny? O. OK. Troepe … Hoe ernstig. Hulle sou seker laat weet het.  Nee nie eers ‘n klokradio nie. Ja bel as jy iets hoor… ja as Johnny bel bel ek jou dadelik.O, hel ek moet nog die polisie bel…. Ek weet nie… ek sal maar die plek skoonmaak – dis seker iets om te doen. Ja. Nee die klein outjie moet seker gewoond raak aan sulke shit. Thanks man, vir jou ook. Bye. bye. Geretrench. Shit. (Bel) Een maer mannetjie… een met ‘n boep.. drie maer mannetjies… is die polisie se roep. Kom nou. Hallo ja. Ja konstabel daar’s by my ingebreek. Ja, vandag. Nee ek weet nie hoe laat nie ek was by die werk. Alles. Ja alles die hele plek – my yskas alles. Dis of ek wou trek of iets – wat bedoel jy – natuurlik is ek seker. Ek sê jou mos – van my yskas tot by my telefoon – alles! OK ek is kalm. Nee niemand is beseer nie, dink jy ek sou hier gestaan en … ja ek weet jy doen net jou werk. OK. Swanepoel. Mevrou. E. Vredehof 106. Leydsstraat. Sunnyside ja – 34 – 6691…hoe moet ek weet – hulle was klaar weg toe ek hier instap. Nee hier’s niks oor vir hulle om te vat nie. Wat? Verdomp. Luister hier – as hier iets was vir jou vingerafdrukdeskundiges om te ondersoek sou ek dit vir jou gebring het, ek sê jou alles is weg. Nee wag, hulle het ‘n klomp rubbish en my man se ou motorfietshelmet hier gelos. Nee ek weet ook nie hoekom nie. Julle stuur ‘n kar . OK wonderlik . 45 Minute. Wat! Uit die township uit. Al die karre is in die township… OK nee wag. Nee hou net vas. Luister – ek’s OK. Moenie oor my worry nie. OK? Ek het ‘n plek om heen te gaan, ja ek sal my skoonma bel en – eh – my man is nou enige tyd by die huis. Ja . Ek sweer ek hoor nou sy kar. Julle kan maar môre kom kyk. Ja ek’s seker. Nee, ek sal aan niks vat nie. Môre sal fyn wees. … OK .OK, reg dan môre. Saaknommer, wag ek kry ‘n pen. Ja? 93/4/19/341. Ja OK. En hoor hier konstabel; as daar enige iets in die township gebeur, bel my asseblief. OK? Enige iets. Ja, dankie. Bye. O Shit-shit-shit.  OK. 1 Koordlose bleddie grand telefoon. 2 Sakke Woolies-bleddie grand bleddie bederfbare-kos. 1 Stokou motorfiets helmet. En een beteuterde beroofde ou glad nie grand pateet … (Bel)  Hallo Ma, ja . Hulle het by ons ingebreek. Alles. Nee ek het nou eers hier… toemaar ek’s OK. Ja, seker. Nee Skoonpa hoef nie hierheen te kom nie. Ek’s seker. Nee Ma, Johnny is nog in Soshanguve. Hy sou vanaand gekom het  maar iets het gebeur. Niks om oor te worry nie – dit sal seker op die agt-uur nuus wees … ek weet nie – nee sover ek weet is hy OK – …. melktert gevat – Ma hy sal vet word… ek weet dis net om die draai van julle af… Nee skoonpa is nog besig met die grensoorloë , hy sal net weer iets te sê hê van die donderse swartes of so iets – los dit ma. Nee, Belinda  is by haar ma. Ek het nou net met haar gepraat. Nee ek sal regkom ma. Regtig. Ja as Ma regtig wil kan Ma my maar kom haal, maar moenie worry nie. Ek hou aan… Hallo? Hallo Pa – ja katte en honde – ja ek is veilig – Oupa se bulletjie ook – pa hy’s maar nog net ‘n peanut in my maag – wat sal hy nou weet. – nee pa ek weet nie of dit die donderse kaffers was nie – dit kon net sowel ook donderse witmense gewees het – OK OK. Dit kon … Nee ek weet nie of Johnny nog vanaand sal opdaag nie. Pa moet  maar op die nuus kyk, ja  - niks ernstig nie, pa moenie die osse voor die trekker inspan nie – ek weet hy’s Pa se enigste seun. Hy’s my enigste man. Ja, OK,  Ma kan my maar kom haal, ek sal vir Johnny ‘n boodskap los of iets. Ja ek sal ook die goed se nekke wil omdraai – nee Pa nie almal nie, net die wat hier ingebreek het. Pa. Luister nou – luister na my – moet asseblief nie nou iets stupids gaan staan en aanvang nie. Ek bedoel nie Pa is stupid nie – ag hemel – As dit rêrig so woes gaan sal die weermag hulle daar uitkry of iets. Nee pappa – dis teen die wet. Maar mens mag nie – ja ek weet die kaffers…ag… pappa… Pa belowe my julle gaan nie iets simpels doen nie… Sê belowe Pa… Sê dit… – ja Pappa. Ja Pappa. Dankie. Ja ek ook. Bye. bye. Shi-it. It never rains, but…  Hoor jy my klein Peanut? Wat ‘n aand. Ek dag nog ek bederf jou pappa met die nuwe telefoon en lekker spesiale kos en – en hier sit ek. Nee, ek weet nie. Ek weet waaragtig nie. As jou oupa nou net nie wil gaan staan en simpel goed … En ek vrek van die honger. Jou Ouma vat vir jou pa melktert en ek sit hier met net ‘n bleddie gevriesde pasta en aha…  … En as jou pa net wil opdaag sal ek hom gaan skiet vir vis en tjips by die roadhouse -(lag) ja ek weet… common soos gras, maar luister hier jy moet nou staan en sê ek’s common nie hoor: Kom ons twee eet hierdie lekker roomys en dan vertel Mamma vir jou die storie van die romantiese roadhouse – Eendag, eendag nie te lank gelede nie was daar ‘n prinses wat nog geswot het. Maar sy’t nie geweet sy’s ‘n prinses nie en het gedink sy’s vet en lelik en vervelig. Maar op ‘n dag, ‘n dag nes vandag, toe reën dit, en dit reën en reën soos sulke groot swaar diamante wat uit die lug val. En toe skielik, soos op ‘n reënboog kom daar hierdie ou op ‘n Suzuki aan, sopnat, en hy klim so windgat af, en hy haal hierdie einste helmet so met sy een hand van sy kop af – kyk nou – so – en toe hy sy nat bos hare so uitskud in die koshuis se voorportaal, toe weet die prinses skielik dis haar prins – en toe kyk hy vir haar en toe – en toe sien hy haar – en toe kyk hulle vir mekaar – en toe vergeet hy waarom hy gekom het en sy vergeet vir wie sy gewag het – en toe vat hy haar op sy Suzuki na die romantiese roadhouse toe – vir vis en tjips – sopnat – en as dit reën soos vanaand, of partykeer as hulle iets wil vier,  of partykeer sommer net of as jou ma so honger is soos nou, dan …Dis nogal ‘n mooi storie nè? En nou weet ek nie eers of jou pappa vanaand huistoe kom nie.Ons wag maar tot Ouma ons kom haal. Kyk ek het spesiaal sy uniform laat skoonmaak vir… shi-it… Waar’s daai bleddie nommer… Yes! (Sy skakel) Tel nou op… shi…hallo ek wil graag met Kolonel de Korte praat. Nou dadelik.  Mevrou Swanepoel. Luitenant Swanepoel se… ja ek hou aan – is die kolonel daar – nee ek kan nie wag nie – skakel my asseblief deur na sy huisnommer toe – ek weet jy kan – toe nou Weerman – dadelik – toe nou! Kolonel – aa kolonel, dis mevrou Swanepoel – ek wil net uitvind oor my man, Johnny – luitenant. Ja ek weet dis laat.. my liewe magtig, maar my man verkeer dalk in lewensgevaar en jy sit daar en… ek het nou net verdomp genoeg gehad van hierdie ge-rond… , wat? Nee wie sal nou daaraan dink om dalk die bevelvoerder van die simpel kamp se vrou te bel hê, ek… Ja ek weet met wie ek praat: Jy kan miskien jou lyf soos ‘n klein godjie tussen troepe wat vir jou kak-bang is rondswaai, maar vir my bly jy net ‘n klein… In radiokontak ? Nou maar hoekom sê jy nie so nie… Swartes…  kamp aangeval, brandbom -’n Sersant en twee troepe lig beseer. Johnny op patrollie – dankie tog… ja.  Jy sal my laat bel as jy enige iets verder hoor. 45-6691.9-1. Dankie. Ja baie dankie. Totsiens – Drol. Radio-…Hallo. Hallo. Yes. Missus Mankiewitz, this is Esther. Esther from 106 jou simpel ou vrou… No nothing, I… no it wasn’t him, no… listen for a moment will you. Please just shut up! Thank you. We had a break in. Yes. Today. Those were the men you saw. No Nothing. Yes I did. Yes. No thank you I don’t want gefilte fish. No my mother-in-law will come fetch me – listen… I just want to know if I could borrow your radio, maybe… just ’till my Mother-in-law comes… for hire… hemel jy’s ‘n ou suinige teef… Yes send Johannes down FIFTY BUCKS, but… hel maar jy’s … no nothing… OK… Ehm… die prins en sy prinses het toe gekys en hulle vry toe te heerlik en … m-m… as jou Oupa en Ouma darem moet weet wat hulle seuntjie aangevang het voor sy troue… dan… ag nee man ek kan nie nou stories vertel nie, kan jy glo hier wil ek staan en nuus luister…. Johannes! ( Uit) Johannes ! Ja Dumela goeienaand.  Ke a leboga (Dankie) Sala Gabotse ( Totsiens) Johannes. Wel dis darem ‘n Grand genoeg radio… hei nee wag Johannes… Hierso is die goed wat jy kan gaarmaak vanaand of wat jy in jou yskas kan sit… Ja pasella… Nee dis goed so…  (Op) R 50-00 … shit.Omroep 1-  …Manjina, sizokuzwa Tears in Heaven ngo Eric Clapton. Komaan… vir jou verstaan ek nou nie… komaan… Omroep 2-  -”…einde van die nuus. Ons volgende bulletin is om 19:45 in Afrikaans.”  -Shit. Thanks. Volgende asseblief…   J.P:                  -”… third day of deadlock in the multi-lateral negotiations between the government and the patriotic front. No agreement has as yet been reached regarding the role of the SADF, the future of the SABC and the current crisis in education and training. The cellular telephone issue has again been mentioned as a major stumbling block between negotiating parties. And  to return to our headline story: We go now to Pat Mukale in Soshanguve township for the latest developments in that situation. Pat.  P.M:                -Thank you John: Chaos has broken out today in this usually quiet township north of Pretoria. Shortly after 3 pm this afternoon a large crowd af school-children entered en area patrolled by the SADF to protest about the military presence in the township.  By some sort of misunderstanding a 16-year old girl was handed a petrol bomb which she dropped over a fence. An SADF soldier shot her and this led to what can only be described as a small civil war. Trucks have been overturned and set alight and hordes of people have marched on the SADF encampment to protest about the shooting. A few shots have been fired and six soldiers were burned severely when a petrol-bomb exploded inside their Casspir. They were evacuated by helicopter. The situation remains tense. This is Pat Mukale in Soshanguve.  J.P:                  -Thank you Pat. No official statement has as yet been received from any source. We have however received a report that a new white private military army has been mobilising recently…That’s the news for now. I am John Patterson for Airwaves South Africa. We will  continue our programme after Eric Clapton’s multi-Grammy award-winning Tears in Heaven.”  Ses. Die kolonel sê drie, die radio sê ses. Ek weet nie. Ag Here Johnny – wees net veilig. Kom net terug. Kom my skat – ons sit net hier en wag tot jou pappa by die huis kom, reg? As Johnny weer huistoe aanmarsjeer hoera, hoera, As Johnny weer huistoe aanmarsjeer, hoera, hoera, Die mans sal skree, die meisies… luister na my, ek sit hier en sing vir ‘n peanut. Maar jy’s darem iemand om mee te praat, nè?  Wat is daar anders om te doen? Ek kan die plek skoonkry… Nee… Kom ons eet dan nog ‘n bietjie roomys en ons luister na nog ‘n storie – en dan sal jy nie meer so bang wees nie, OK? Luister nou mooi: Eendag … het die prins en sy prinses pos gaan uithaal. Toe is daar so lang brief in , so bruin-grys een. Maar dit was slegte nuus: Die boelies wat die land regeer het het hom beveel om in hulle oorlog te gaan speel terwyl hulle lekker veilig in hulle vet Mercedesse op hulle vet sterte gesit het. Ons prins was ontsteld toe hy dit gelees het en hy  sê toe, nee dankie, hy wou nie saam met sulke boelies speel nie. Maar toe skryf hulle weer vir hom en sê as hy nie dadelik gaan nie, gaan hulle sê hy’s ‘n skelm en hom tronk toe vat. Hy was so vrekslim en so sag voor hy gegaan het… en toe hy klaar was het hy soos ‘n maer bruingebrande vreemdeling huistoe gekom … en dit was so lank voor ek weer die sagte prins in sy oë gesien het … maar hy sê nou hy het net gegaan net sodat sy vrou… sy prinses gelukkig en veilig in hulle klein, en op hierdie stadium redelik leë, kasteeltjie kon wees. Sy was… (Telefoon lui) Hallo! Hallo my engel!  Ja hallo jouself ook – simpel. Ek sit nou net en skinder van jou. … al die hele aand – ja dis gek hierso- dis soos Bloemfontein se poskantoor. Ek… Waar’s jy! My skat ek mis jou. Ag sies dis so soppie – ek belowe myself al heel aand ek gaan so tough wees as jy bel en nou’s ek so bly – tiekieboks. Wat’s die nommer? Afgeruk . O. OK. Ek luister. O jou pes ek mis jou so. Jy bel my nou eers. En hier sit ek, jou twee maande swanger vroutjie en jy laat my niks weet nie. Nee ek weet jy kan nie wegkom nie, ek weet jy’s in beheer daar.. hoor hierso jy sal nie glo… Black is beautiful – wat’s Black is Beautiful?  O soos make-up vir kamoeflering nou lyk julle almal soos Swartes, dan dink die swartes julle is… dis eintlik nogal snaaks, jy wat nou soos ruiter in die nag lyk nes …nou maar gooi nog geld in…  maar wag nou eers: Jou kolonel het dan gesê dis nie gevaarlik nie. Ek het hom gebel, ja. Ek verstaan nog nie – Hoekom moet julle julleself dan swart smeer en wegkruip en … maar… hy sit lekker op sy gat in Waterkloof en lieg vir my, en jy… ek sal gat sê! Gat! Gat! Gat!…… jou seun. Jy wil jou met jou seun praat. Hom groet.  Nou maar is jy dan mal. Ek moet die telefoon op my maag sit en …ag jou simpel ding … Sê dan hallo vir jou pa… Jy weet ek’s eintlik vreklief… Johnny? … ek … shit. Ek wou nog vir hom vra wanneer hy huistoe kom. Ek wou nog vir hom sê…van die plek en als… Hallo? Wat gaan aan? Hallo… Wie’s dit…Johnny?  Weerman De Wet? Is.. die luitenant moes gou … ek … gooi nog geld in ek hou aan … GOOI NOG GELD IN! O nee., o nee… Shit wat de duiwel gaan aan… Radio: J.P:                  …. on the line a man who calls himself the leader of the White Protection Unit. Mr Swanepoel?  Skoonpa:    -Ja John. I prefer only  to speak in Afrikaans. J.P:                  -Yes Mr Swanepoel. Could you speak up a bit, please. The line seems very faint. You speak on behalf of a new right-wing organisation?  Skoonpa:    -Ja John. Is that better? J.P:                  - Yes thank you sir. Skoonpa:    - Ons is die Blanke Selfbeskermings Eenheid… J.P:                  -But we have never heard of you sir. Skoonpa:    -Dis omdat dit nog nie nodig was nie . Ons het dit vandag vir die eerste keer nodig geag om van ons te laat hoor. Ons is gemobiliseer en ons staan op die punt om in Soshanguve in te gaan en ons mense te gaan uithaal. J.P:                  Excuse me, sir, how do you propose to do that. Skoonpa:      Ons belowe dat ons elke soldaat en witman uit daai nes gaan uithaal, en niemand sal in ons pad staan nie, … my mense… ons mense sit daar. J.P:                  -How do you propose to do this sir. Skoonpa:    Ons is keelvol vir almal wat ons oumense en ons kinders uitmoor. Vanaand sal die wêreld sien wat gebeur as die gewone mense in hierdie land genoeg gehad het. J.P:                  Mr Swanepoel – we have heard threats like this be… Skoonpa:    - Jy mors my tyd. Ons gaan in – en ek sal persoonlik elke kaffer wat in my pad staan vrekskiet.  -Mr Swanepoel, don’t you think that is a rather severe stance to take in these times of reconciliation. Mr Swanepoel aren’t you… Mr Swanepoel… well…we seem to have lost him…A government spokesman has re-iterated that any person who takes the law in his or her own hands will be considered to be a criminal and will be treated as such… (Bel) Bly net daar. Bly net kalm. Shit man tel net die donderse foon op.  Hallo Mamma. Ja is Pa nog daar. Ja stop hom. Stop hom! Dis wat Ma nog die hele tyd probeer… Ja ek weet hy was nou net op die foon na die radiostasie toe en hy’t gesê hulle gaan die townships skoonmaak. Ma stop hom! Hy’t gesê hulle … nog nie gery nie…Om hemels naam Ma, nou maar hol agter hom aan! Ag liewe Here laat sy hom stop. Ag liewe Here… Ek sien al hoe doen hy die onnoselste ding. Nee man. Vir wat vat jy so lank. Ag my magtig – iemand -stop hom net…hallo! Hallo! Magtig. HALLO!!! Ja dis ek. Vir wat skree ek so – vir die feit dat Pa op pad is om my man te gaan uithaal en hy sê hy skiet al wat ‘n … is en Johnny lyk op die oomblik soos  ‘n…donderse….Ma asseblief ry net agter hom aan of iets… ek hou aan… Ag Here Johnny wees net OK. Ma. Asseblief. Ry net agter pa aan en stop hom en sê vir hom Johnny is soos ‘n swartman aangetrek en … asseblief Mamma. (Bel)  Belinda… dis Esther… o my shit .. het jy gehoor… ja .. nee ek weet nie… ag shit – ek’s jammer… ek.. ek … nee.. ja.. ek weet nie… ja… ons… ag Liewe Jesus asseblief.. radio… ja… J.P:                  Pat can you hear me. Pat? Pat are you there? No… well all right. We will continue our programme with… ah it seems we do have Pat on the line…  P.K:                 -Yes John. All hell has broken loose in Soshanguve. We have been hearing sporadic shots all evening as patriotic front cadres have kept SADF re-enforcements out of the township. Black civic leaders have called for peace but no-one seems to be listening. Fifteen people have been killed and as many as 45 injured, amongst them two journalists from TBN. A government spokesman has called for peace and calm but has denied allegations of corruption and mis-management in the top structures of the SADF. A spokesman for APLA has denied categorically that they have anything to do with this day’s violence.  At the moment I’m hiding in the only building in Sosh with a working telephone, which ironically has until as recently as this morning, been used by both SADF-troops trying to call home, and patriotic-front leaders, reputedly receiving orders from their leaders… We can’t see anything from where we are hiding. This is Pat… good heavens… John I’m at this very moment seeing a long convoy of vehicles entering this area.  I can only see their headlights through the rain… They seem to be… no they’re definitely not SADF vehicles… this convoy is spreading out over all four lanes of Soshanguve’s main road… They are putting on what seems to be hunting lights mounted on their upper… This is Pat Mukale getting out of here for Airwaves South Africa. J.P:                  -Thank you Pat. Stay tuned to Airwaves South Africa. I’m John Patterson.  Ag my baby. Ag my baby…Eendag het ons klein prinsie voor die spieël gestaan en gesien dat hy ‘n grootmens geword het. Hy was vrekslim en baie oulik… Hy’t toe gehoor van al die mense in sy land, van hoe hulle alles  vir hulleself wil hê… toe gaan hy na ‘n groot piramide toe wat hulle gebou het in die middel van die land… en waarby hulle almal in groot leërmagte saamgetrek het om met mekaar te baklei… en die mense het ketties en byle … en …alles..  gehad om mekaar mee seer te maak – en hy het gegaan om sy ma en pa … en … sy… prinses veilig te hou… En hy kom toe daar aan… en hulle is almal daar en almal raas vreeslik en skree en wapper vlae  in allerhande kleure … en hulle wil nie laat hy tussen hulle deur stap … tot by die piramide nie, maar hy staan net daar … en sy prinses se… omgee … se… liefde… ag liewe Jesus asseblief… is soos ‘n skild … ‘n koeëlvaste skild rondom hom… rondom hom… En hy stap tussen hulle deur , tussen al hierdie mense wat hom so haat… en hy… kom… niks oor nie… hy loop heeltemal veilig… heeltemal… sonder enige skrapie (telefoon lui) … my prins  loop heeltemal…heeltemal… velig… tussen… hulle…                                                                                                                                      end.b:johnny.