Filed under: Uncategorized
2/18/00
1: 10 kort stappe om jou hele familie in Engeland te kry:
Stap 1: Maak seker jy kom van ‘n land waar daar teen een of ander soort tipe, kleur/geur mens aktief gediskrimineer word. So erg dat hulle lewens in gevaar is. Se nou maar Taliban. Maak seker jy’s een van die soorte wat teen gediskrimineer word..
Stap 2: Reel ‘n troue vir jou en jou hele uitgebreide familie ma’s, pa’s, sussies, skoonsussies,boeties en baadjies vir boeties een provinsie verder– almal moet vlieg na die troue toe – sorg dat julle almal op dieselfde vliegtuig is .
Stap 3: Laai so twaalf ander maats op die vliegtuig - maats met gewere en goed.
Stap 4: Skaak die vliegtuig
Stap 5: Sorg dat die vliegtuig oor al die lande vlieg wat jou nie sal asiel gee in Europa nie, Rusland, Duitsland, Italie, Frankryk, Belgie – hierdie vlug alles vir R120.
Stap 6: Land op Stansted buite Londen en maak seker die media en liberales plaas woes druk op die regering vir dae lank – maar weier om met enigiemand oor enigiets te onderhandel.
Stap 7: Laat uiteindelik almal vry en doen amptelik aansoek vir asiel – saam met die meeste ander passassiers.
Stap 8: Word in R2000 per nag hotelkamers geknus en keur en jou aansoek om asiel word voor in die tou gedruk – voor meer as 100 000 ander aansoekers, soms wat regtig om asiel aansoek doen.
Stap 9: Hou aan met die plan tot jou hele nasie hier woon en dring aan op minderheidsregte.
Stap 10: Lag al die pad wlesynbetalingskantoor toe.
R
2:
Sal die laaste ou wat Brittanje verlaat asb probeer om die wiel aan die gang te kry.
2 Amerikaanse besigheidsouens, een in sagteware en 1 in besigheidsinformasie bespreek finansiele moontlikhede. Wel Europa is die volgende groot ding en ons wil graag ‘n groot tak oopmaak hier iewers, maar ons kan nie besluit of ons in Brittanje/Duitsland wil verplant nie.
Snaaks dat jy dit noem – ons dink dieselfde ding. Jy weet Londen word ‘n baie gewilde plek om te wees, maar ek wonder oor die Britte – Jy weet, al die millenium grootpraat – gits die ouens kan nie eers ‘n mallemeule bou wat in die rondte draai nie. Selfs die kaartjiesisteem breek aanhoudend.
Hierdie gesprek is maar net ‘n simbool van hoe Nuwe Brittanje se beeld van millennium monumente en nuwe idees besig is om met al meer skeptisisme bejeen te word.
Sien, In die nuwe Brittanje droom ons groot – Ons dop is die grootste dop, ons wiel is die grootste wiel, ons … ja-nee. En dit maak nie saak dat geen van hierdie simbole regtig werk nie. Groot Britse simbole soos Marks en Spencer en British airways sukkel om uit die moeras van viktoriaanse denke te kom en nuwe maerder maatskappye vat hulle besigheid. Groot monopolie soos Dixons, ‘n elektroniese verkoper is so arrogant dat hulle weier om Kersgeskenke om te ruil. Waar die magsbasis besig is om te verskuif van die verkoper na die verbruiker word klientediens nog steeds beskou as ‘n uitgawe eerder as ‘n bemarkingsbelegging. Lyk my al die dinosourusse hier vergeet dat 80% van jou wins uit 20% van jou bestaande kliente kom.
In die nuwe Brittanje is die klem op nuut, nuut en nuter. Die argitek en ontwerper is koning – nie die tegnikus en werker wat hulle lugkastele moet bou en onderhou nie.
Ja nee, bo blink, onder stukkend
R
3: En nou’t Mugabe nie net die gekookte referendium verloor nie, hy terg sommer die Britse media ook. Sy party die ZANU-PF’s het gekla dat Tony Blair en sy mense die nee-referendum gekook het en ook nog geld vir die nee-ouens gegee het.
Mugabe is nog steeds die koerante vol – hier is ‘n hele tabel van hoe hy in 20 kort jaartjies die eens welgestelde, hoogs opgevoede land vernietig het. Met lewensstanddaarde onder 1980 vlakke en gemors-infrastruktuur vertel veral RW Johnson, korrespondent van Die Times hier uit JHB, dat selfs ‘n $ 100 milj. Gaddafi geskenk nie vir Mugabe uit die tjorts gaan help nie. Hy berig dat baie Afrikane nou bereid is om openlik te se dat dinge beter was onder Ian Smith – en dis nou ‘n omdraai vir die Britse pers wat ak nog nooit hier gesien het nie. Ons eie pres Mbeki se besoek hou ook aan kritiek kry. Dit word gesien asof hy deur sy besoek sy geld op die gunsteling gesit het, ou kameraad en struggle-ondersteuner Mugabe – en nou lyk dit of die buiteperd ook stof in ons pres. Se oe geskop het.
Ongelukkig stem hulle in 2002 in Zim. Die Zanu PF elite sal natuurlik alles moontlik doen om in mag te bly en die stemmery het feitlik geen kans om regverdig en vry te wees nie. Met meer as 1/3 van geregistreerde stemmers oorlede en baie Zanus wat verskeie Identiteitsdokumente het, asook die stemregistrateur wat ‘n militante Mugabe-man is, lyk demokrasie maar oorle in die demokratiese republiek van Zim.
Die destabilisasie wat strek van Rwanda en Burundi deur die Kongo en Angole tot in Namibie lyk asof dit Zimbabwe ook gaan oorweldig. En hoe verskriklik tragies dit vir die mense en dire van die pragtige kontinent sal wees, is ek oor een ding bly. Niemand kan my daarvoor blameer nie.
R.
4: Vieslike Februarie. Is daar ‘n hele maand in SA wat elke jaar aaklig is? Mislike Maart, Droewige Desember? Miserabele Mei? Vergeet as jy kan, vir ‘n oomblik die vloede wat hierdie Februarie erg gemaak het in SA. In hierdie land is elke Februare vieslik. Die weer is erg – dis nog koud en donker – en as die son skyn is jy so bly om uit te gaan dat jy uitstorm en dan byt die Siberiese wind jou tot in jou murg. Dis die maand waar jy met jou nat wasgoed jaag na ‘n droery toe – want niks word droog nie die vensters muf, jou bolle vries in die grond dood en jou ruitveers verbrokkel as jy die ys probeer afvee daarmee.
Maar Februarie is ook hierdie jaar half vieslik vir Tony Blair. Hy wrd beskou as magsbehep en iemand wat in homself verantwoordelikheid wil neem vir alles wat goed is aan nuwe Brittanje. En natuurlik, as die wiel draai, dan dra hy ook alleen die blaam vir alles wat verkeerd gaan. En gaan dit nie verkeerd nie: Nou weer die gekonkel oor radio-aktiewe brandstof en mense wat nie behoorlik gemeet en geweeg het nie – ‘n hele dorp is ontruim a.g.v. toksiese grond, Die Nasionale gesondheidsdiens is aan die ondergang, Harold Shipman en die dooie outannies, Misdaad op, die millennium dop wat so vrot vaar, pensioene wat gesteel word, Sy man in wallis wat uitgeskop word, sy man vir Londen se eerste burgemeester wat uitgelag word, Noord Ierland en die gewere, Die spoorlyne in ‘n toestand, selfs die moontlike verkoop van lughawebeheer aan privaatpartye – Die Euro-pond kwessie – mens kan aangaan, gits en kan mens aangaan. En kan sy regering aanjaag. Dit lyk asof die hele media-romanse nou al erger skeefloop. En arme tony dra die blaam. Hoekom? Want hy wil. En soos ‘n spotprent vra – wat het hierdie man (Tony) om oor te glimlag? Tweede prentjie – sy opponent – William Hague. En ek dag politiek is vervelig hier.
R
5: Niemand gee om nie. Toe die Belge agterkom hulle politieke bestel is geimpliseer by ‘n groot pedofiel-ring, het hulle in hulle duisende strate toe gestroom, ‘n kwart-miljoen het geprotesteer.
Nou hier in Brittanje, na ‘n ondersoek van R130 milj. Word ons vertel van die sistematiese seksuele mishandeling van 750 kinders oor 20 jaar in Wallis – en wat gebeur? Nie veel nie.
Ons hoor dat 28 van die beskuldigdes nog steeds met kinders werk. Reg en geregtigheid gebeur net nie.
‘n Lord, ‘n groot Konserwatiewe se naam word aanhoudend genoem, maar niemand mag se wie hy is nie. Sy party gooi hom nie uit nie. Hy word nie geteer-en-veer nie. Selfs al sou hy, sou dit eerder sy aanklaers wees wat 2e sal kom. Hulle sal geblameer word van wasgoed in die openbaar was – iets wat nie hier mag gebeur nie.
‘n Afgetrede polisiehoof word herhaaldelik genoem as een van die seksuele terroriste. Hy se hy’s onskuldig. Sy woord teen hulle s’n. Hy’s respektabel en magtig – hulle is tipies tragies arm, sukkel selfs om oor sy aanrandings te praat. Hy het eers ‘n magtige polisiemag beheer. Hulle word beskou as buite die wet, moelikheidmakers, ‘n deel van die probleem, nie die oplossing nie.
Sir ronal Waterhouse in sy lang, duur ondersoek, het beloof om name te noem – maar hy doen nie. Oor en oor word vingers gewys na magtiges – oor en oor weier die ondersoekers om hierdie vingerwysings te ondersteun. Senior polisiepersoneel word ge-impliseer, die mense van die welsyndiens, die wat die stukkende kinders moes oppas, word oor en oor aangekla as hulle mishandelaars. En niemand gee om nie.
Die Belge protesteer in die strate as die monsters ge-openbaar word.
In Brittanje word niemand afgedank nie, niemand gaan tronk toe nie, niemand word vervolg nie, niemand gaan strate toe nie. Niemand gee om nie.
R
6: Jy kan die skilder uit die bos haal, maar nie andersom nie. Net soms, in hierdie land waar ‘n koei in eter en ‘n deurmekaar bevarkte bed as hogere kuns beskou word as hoogste kuns, kom daar net soms ‘n storie wat jou hart laat water.
Sy naam is Ramon Piaguaje en hy’s Ekwadoriaans. Hy word bestaar, want selfs in dekadente Londen sien mens selde ‘n man met donker-rooi groentekleursel oor sy gesig, met toekan-vere in sy palmkopband om sy kop, ‘n groen tuniek en kaalvoet in Oxford straat afstap.
Hy’s een van die 250 sterk Secoja mense uit die reenwoude en hy se hy’s nou aan die einde van die aarde.
Ramon is in Londen want hy’t eerste prys gewen in ‘n skilder-kompetisie. Uit 22500 inskrywings vir die Verenigde Nasies se Ons wereld in die Jaar 2000, is sy skildery Amasone vir altyd, as die beste aangewys. Ramon se obsessiewe gedetaileerde werk beskryf die reenwoud in fynste detail. Elkeen van die 1000e blare is in detail geskilder. Daar is nie diere nie, net die flits van ‘n blou skoenlapper en ‘n bra vaal toekan in die linkerboonste hoek.
Ramon verf uit kalmte, stilheid, Tranquilo. Tuis jag hy met sy blaaspyp, groei sy eie kos en dra elke dag sy tuniek. Sy stam dink sy gawe is van Bo want hy het vir die eerste keer in 1993 kleur olie-verf in die hande gekry. Voor dit het hy in swart en wit geverf, of in die sand, of in die lug. Hy se hy kon hom nie verbeel dat mens in kleur kan verf nie.
Al boodskap wat hy het is vir sy oerwoud – hy huil soms as hy verf want sy geliefde reenwoude word bedreig soos oral in Suid-Amerika.
Ramon het nie een van die 20 skilderye oor wat hy sedert 1994 geverf het nie. Hy beplan om nou ‘n sonsondergang te verf – wat hy sal hou.
Hy word gevra wat hy van Londen dink. Ek is beindruk dat daar bome is in die middel van die stad se hy. Hy sou.
R
7: Hulle het altyd soos Biafrane gelyk. Arme ou brandryk supermodelletjies in amperkleertjies wat oor die modelplankies voortplons. Pre-Rafelriete op steeltjies wat na anoreksia advertensies lyk. Toe kom heroine-chic met modelle se ogies so swaar swart gekleur en nog maerder.
Maar nou gaan dit te ver. Alexander Mcqueen, koningin van die modeskou se modelle het weer gepryk in die Londense modeweek. Maar vir ‘n ou wat se sy modes word gedryf deur vroue wat beskadig is, lyk dit of hy eerder die vernedering van die vrou gevier het as haar bevryding. Die modelle het gelyk asof hulle aangerand is. Dis moeilik om seksie te lyk met ‘n mondstuk wat lyk asof dit deur Hannibal Lecter verwerp is as wreed. Ja een meisie het ‘n stuk yster in die mond gedra wat haar lippe in permanente gryns gestrek het – asof sy pas ontsnap het van ‘n maniak-tandarts. Die kontrepsie het nog 2 sulke 6-duim ystertande gehad – droommeisie as jy Jaws is.
Nog een loop op die plank met haar kop op ‘n skinkbord – kop gepleister met siek geel gemors.
Uitgerafelde polonek saam met ‘n regte bouersboude broek – selfs die modepers sukkel om dit klere te noem, wat nog van mode.
Met klere wat jou in elke land moontlik sal ge-arresteer kry het oral geskitter. Deursigtige gewaadjies en flenterlappies is miskien mode in Rwanda, maar op londen se modeskoue lyk dit net na swak smaak.
En hoe vry die tv en modepers nie na die stout-kind ontwerpers nie! Hulle hou veral van die partytjies waar hulle afgeneem word met die nuutste lafste ontwerper en die se vernederde maar goed-betaalde model. En dan moet mens die sous dik smeer aan die kool: Wat van: stroop die skouspel weg en jy bly oor met droomklere. Nee sussie, stroop die spektakel weg en jy bly oor met kaalsterte.
Die ontwerper van elegante, mooi, seksie en nie-uitspattige klere teen bekostigbare pryse ene Karen Millen, het nie eers die sirkus bygewoon nie. Nee sy verkoop maar net haar praktiese klere in 36 winkels oral in Brittanje se hoofstrate. En haar klere trek nie desperaat die aandag na die sitvlak nie. Haar kliente het dalk sitvlakke, anders as die modelle wat lyk of hulle deur hulleself sal val as hulle op ‘n riempiesstoel sou sit.
R
8:
Die boek se naam is beelde van die eeu. En mens sou verwag dat daar prentjies op elke bladsy sal wees. Maar daar is nie. Nee hierdie klein sakpas boekie se 256 bladsye is blanko, blanko behalwe vir ‘n paar woordjies, klein gedruk, onderaan elke bladsy. Anders as heeltemal blanko boeke soos: mense wat apartheid ondersteun het, Winnie se wyshede, Militere intelligensie, Die lys van nie-korrupte politici en ander wat ek kan noem, is hierdie pittige boek se bladsye blanko gelos sodat jy jou eie prentjie kan in jou kop kan invul op elke lee bladsy.
Die boek volg kronologies die 20e eeu. Dit begin met 1900 Coca-Cola logo – eerste gesien in die jaar – en wie’t nodig om herinner te word hoe die prentjie lyk?
Kyk na 1930 links, Marlene Dietrich in the blue Angel. Regs Greta garbo.
1989: man en tenk, Beijing, langs Berlynse muur.
Peter Davenport, die skrywer het ‘n paar ander pittige jukstaposisies. 1969: Glimlag wapentjie, en 1969: Daggablaar – miskien moes hulle andersom gewees het.
Margaret Thatcher 1979 is teenoor sirkels in die koring 1970.
Ek dink die boek is effektief omdat ons in so ‘n oorbelaaide visuele tyd leef. Die bombardement van prentjies, stil en bewegend, is groter nou as wat dit ooit was. En die boek dwing ons om ons eie prentjie, of ons weergawe van die prentjie te sien op ‘n bladsy waar mens sou verwag om ‘n foto/skildery te sien.
Om die waarheid te se, van die prentjies is so in mens se geheue geprent dat die woorde amper ook oorbodig is. Die wit bladsy bevry mens om jou eie onthou-prentjie in te vul – amper soos mens se eie mymeringe – mens word bevry want jy kies self watter prentjie jy by die woorde wil sit.
Die laaste woord prentjie in die boek – Millennium dop. Nie elke boek het ‘n gelukkige einde nie.
R.
Eerder uit die mode as dood se ek.
2/6/00
Karl Hackett is dood, lank lewe Lee Simm. In die Paddington-trein-ramp storie wat een van my eerste berigte vir Kosmos was, het ek vertel van die verwoestende brand in trok H, waar pendelaars so erg verbrand het dat hulle oorblyfsels onherkenbaar was. Nou lyk dit of die eertydse Karl, hackett, seksuele misdadiger en tronkvoel, die tragedie gebruik het om finaal sy eie naam vankant te maak en so die identiteit van ‘n oorlede vriend, Lee Simm aan te neem. ‘n ondersoek wys dat Simm al die afgelope 15 jaar probeer om sistematies die spore van sy ou identiteit uit te vee. Dit was Simm wat die polisie geskakel het na die ramp by Paddington en hulle vertel het dat sy sg. woonstelmaat Hackett, ook vermis was en op die trein kon gewees het. Brian Hackett, pa van die nie-oorlede Karl se dis laakbaar dat sy eie seun die polisie mislei het en hulle tyd gemors het met die valse foon-oproep, dit terwyl hulle regte slagoffers se naasbestaandes probeer opspoor het.
Die polisie het lont geruik en besluit om ‘n familielid saam te neem toe hulle Simm se woonstel besoek. Natuurlik het die persoon Hackett herken en die speletjie was verby. Maar Hackett/Simm hou vol dat hy sy naam wetlik na Simm verander het en tot soveel as R 450 000 as rekenaarkonsultant verdien het. Hy se jy kan jou naam verander, van area verander en van vooraf begin. Natuurlik maat, maar om jou ou self te vermoor behels gewoonlik effe meer as ‘n vals foonoproep.
R
Ek en ander siniese joernaliste hier berig al lank oor die Mickey Muis-agtige Millenium tent, daardie halflee tent aan die Teems, simbool van nuwe arbeid se vals beloftes en kontantkoei soos min. Hierdie week is nie net berig dat in Januarie slegs 3% van die jaar se besoekers die dop besoek het nie, maar dat die staatsamptenaar wat dit bestuur het, ene Jennie Page, ‘n goue handskud gaan kry, maar afgedank is omdat sy nie die grootste wit sirkustent op aarde kan bemark nie. En dit slegs ‘n week na Tony Blair die projek as simbool van sy jong land geprys het, as die grootste skouspel op aarde. Ja Tony en die Titanic was onsinkbaar.
Ongelukkig het die ge-eggo van voetstappe in die lee dop, die prentjie wat Blair graag wou skep effe tee-gegaan. Van vroeg af is die Millennium dop gepla deur ‘n magdom kontroversie. Nie net is die Britse nasie-sone se beplanning verwoes deur die Skotte en Walliesers se devolusie van mag-stemmery nie, maar die geestelike sone was ‘n groot twispunt tussen kerke en denominasies – nou dat die Dop amptelik ge-open is, is die area veral ‘n woestyn van bywoning.
En nou, om die petalje te red, kom ‘n Fransman van oor die sloot. Pierre-Yves Gerbeau, wunderkind van Euro-Disney, wat op 25 aangestel is om die sukkelende park van finansiele ondergang te red, is aangestel om sy toordery op die dop uit te voer. In Parys het hy die hulp van ‘n snaakse ou grootoormuisie en die se tekenprentmaatjies, Lion King, Cinderella en die sewe dwergies gehad om die maatskappy uit die gemors te help. Die toordery wat hy hier sal moet aanwend om die grootste wit skilpadsaal op aarde aan die gang te kry, is agter eerder op die wonderwerkskaal.
R
Mamma sy wil ‘n man he, wat se man my liewe kind. Wil jy dalk ‘n engelsman he – toe bokkie wil jy dalk. Is jou prentjie van die Engelsman ‘n soort Cary Grant, suave, sjarmant, elegant, stylvol, skerpsinnig, of selfs Hugh Grant, daardie agterlosige hulpelose tipe, wat deur die meisie kry deur meer pateties as sy te wees. Die arme britse man word nou eerder gesien as ‘n biersuipende voetbalaanjaer, of ‘n vuil skaars-verstaanbare popster-tipe Liam Gallagher van die groep Oasis.
Die Engelsman word gesien, veral deur Europeers, as emosieloos, introvert, stug en toegeknoop. Hy is nie so fiks soos sy Amerikaanse nefie nie en is ‘n lui slegte vet verloorder. As hy ‘n snob is, is hy onderdruk en basies seksueel so effe af. Tot 30 is hy nie die soort ou wat ‘n meisie na haar ma toe sal vat nie. Na 30 verander hy dadelik in haar pa – grys dorpenaar met styllose klere en lelike oortrektruitjie.
Natuurlik verdedig die bleek media-meisies hier hulle landgenote en se hulle verkies die emosionele skottelgoedwater bo die emosionele roltrap wat die Amerikaner is. Hulle wil nie die onder-terapie, alles-deel entrepeneur he wat self-help boeke lees nie.
Dan is daar ook die prentjie dat Britse mans pateties in die bed is, veral die Franse is nogal ernstig daaroor. Maar die koerantmeisies veg terug – hulle mans is baie goed met grappe, nee skat hulle is net ernstig belaglik. Hulle gebruik Madonna as voorbeeld – sy is nou al besig met haar 2e Britse liefde. Dink net, Britse mans is pateties, maar hulle is darem snaaks. Siestog. Ons kon nie ‘n Britse man kry met genoeg durf om hierdie aantygings teen te gaan nie.
Wil jy dalk ‘n soutie he – nee mamma nee, nee dankie, nee wat, en nogmaals nee.
R.
Die poniekoerant het uiteindelik weer koningshuis nuus om hulle te verkoop. Nie net was die koerante die week vol van Fergie se dik dye wat geflits het toe sy op ‘n geleentheid woes gedans het nie, maar haar ekx-Prins Andrew het die week amptelik dot.com geraak. Ja, ook jy kan nou die lief en leed van die stilste 4e van die troon-prins deel. Ook in die nuus is die prinsesse Eugenie en Beatrice wat hulle skooldae in verre Switserland gaan deurbring. Moet hel wees.
Die Wessexe, Eddie en Souf, is nie so gelukkig nie – Edward is een van die ouens wat nie sy bouer se rekening wil betaal nie, sowat R 6 milj. – en arme Souf, mooi soos sy is, het ‘n dooie jakkals oor haar kop getrek. Ja die arme nie-polities-korrekte gebaartjie van ‘n jakkalshoedjie in die sneeu het die hasieomhelsers hier woedend gemaak en hulle gil om haar bloed.
Selfs Koninging Lisbet was in die nuus – en dit oorie honne. Ja dis nie meer corgi’s wat koning van die kasteel is nie. Dis nou spanjoele. Elegante naampies soos Bisto, Oxo, Flash, Spick en Span pryk nou op die nuwe koninklike gunstelinge. Mens kyk maar net na die koningin se naaste familie en dan dink jy, jy sou dalk ook eerder vir Wagter omegegee het.
R
Naand konstabel, ek wil ‘n trekkerdiefstal aanmeld. Ja‘n trekker-diefstal. Dis so groot groen ding met ‘n ploeg aan. Ja neurotiese SA motoris, hier in engeland is die teiken die trekker. Massey fergusons en john Deeres is van die gewildste voertuie vir veral eurpoese wieldiewe. Meer as 100 is die afgelope jaar uit die suide van Engeland gesteel en die waarde van die logge trekker-diefstal is R 30 milj. Veral Kosovo is ‘n eindbestemming van die masjinerie – dit na Nato se bomme ‘n trekkerfabriek in Pristina met die grond gelyk gemaak het. Jou Merc is veilig, maar sluit die ou Vaaljapie toe. Richard dugdale van Mereworth se hulle het sy Ford trekker seker in die nag in die pad afgestoot – hulle het nie aan een van die motors geraak nie. Die Rolls Royce van trekkers, die Duitse Fendt 926 kos meer as ‘n miljoen rand – en lugversorging, selfstel-suspensie-sitplekke en selfs kompakskyfskommelaars is al meer standdaard. Andy Moore van Farmers weekly se dat dit is soos om ‘n voorhuis in jou kajuit te he – g’n wonder diewe stel belang nie. Kom ons vergelyk die 2 produkte. R 440 000 koop jou Mercedes S280 hier, wel baie vinniger, met elektriese vensters en sys debateerbaar mooier as die R 420 000 John Deere 6410, maar die John deere het 24 ratte vorentoe en 24 agtertoe. Beide voertuie het radio-kassetspelers en soortgelyke krag uit hulle enjins. Maar die trekker het ‘n rekenaarpunt vir jou draagbare rekenaar en ‘n koppelpunt vir die ou selfoontjie waarsonder geen boer hier meer ploeg nie.– en dis iets wat nie eers ‘n opsionele opsie is in die Duitse droom nie.
Wat kan mens se? – Een setlaar geen trekker.
R.
2/3/00
‘n Appel ‘n dag kan jou lewe red. As jy vroulik is en ‘n pasient van Dr. Shipman – die Dr Jekyll en Dr. Hyde van die dorpie Hyde. Dis die soort storie wat mens nie eers in die fliek wil gaan kyk nie. ‘n Dokter, Harold Shipman, skuldig bevind aan die moord van 15 pasiente en gevonnis om die res van sy dae agter tralies deur te bring. In Strangeways tronk in Manchester, waar hy tans aangehou word, hou hy aan om sy onskuld te bepleit, maar berigte hou aan inkom oor meer en meer moorde oor die afgelope 30 jaar wat direk met Shipman verbind word. Syfers van die 150 moorde wat direk deur die polisie ondersoek word, tot soveel as 1 500 sterftes onder sy sorg, wat nou as moontlike misdade beskou word, word oor bespiegel. Wat mens verstom is hoe lank ‘n dokter, wat meer as 20 jaar gelede slegs oor die vingers geraps is toe hy van ernstige dwelmmisbruik aangekla is, hoe ‘n familiedokter met soveel moorde kan wegkom, almal van ouer vroue. Die motiewe van die moorde sal sekerlik lank en deurdagtig deur sielkundiges en psigiaters ondersoek word, maar die vrae van hoe ‘n beroep bekend vir kyk agter hulleself, toegelaat het dat die grootste reeks-moordenaar in Brittanje se geskiedenis met soveel slagting kon wegkom.
Die regering, die polisie, wat reeds in Maart 1998 ernstig aan die saak gewerk het, sy kollegas, na-doodse ondersoekers, die mediese raad wat geen vrae gevra het na 4 keer soveel pasiente onder sy sorg gesterf het as die norm, en natuurlik sy gesin is almal onder vuur. Al die amptelike liggame sal seker wegkom met een of ander verskoning, maar sy vrou Primrose het geen kommentaar nie. Sy seun, David se net: Daar is geen kommentaar nie, nie nou nie, nie in die toekoms nie, nooit nie. Ouma kom help, maar sy kan nie, sy was ook een van dr Shipman se paiente.
R
Leave a Comment so far
Leave a comment